Plakkerskamp
Anoniem - Ek stap vanoggend weg van die plek waar dit die slag Liesbeth se beurt was om haar kindjie te begrawe, sommer hier in die kamp, op 10 Julie 2024. Sal iemand ooit weet of onthou klein Jna was ook vir 'n rukkie, 'n volle 16 maande, hier op aarde? Of beteken dit as jy arm is en jy gaan sommer dood van koue, dat dit nie saak maak nie en dat die lewe maar net moet aangaan sonder jou? Sonder om jou te mis of om 'n gat te los? In Liesbeth se hart het haar kind se dood 'n gat gelos - vir ewig. Die winter het ons gevang hierdie jaar.
Ag, Here, hoekom is ek hier? Hoekom is my lewe en my kinders en my hele bestaan opgesom in 'n vuil, gemufde tent vol uitgooigoed en vrot goed?
31/07/2024